2014-02-18

Villa Rosa op KykNET het iets nuuts aangepak toe hulle die karakter Carlo gay gemaak het – beslis 'n waagstuk vir Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse TV. Die storielyn het so baie potensiaal gehad om mure af te breek en op die positiewe te fokus. Maar nee, Carlo word so veel as moontlik uit die storie gehou en net vir kort rukkies ingebring om die storie om te krap en dan weer uitgeskryf voor dit iemand ontstel. Die feit dat hy altyd net emosioneel is in wat hy dink en doen, en “druk plaas” op sy ouer se verhouding met haar seun en ander mense, is maar net een van die ou cliché's wat in die storie is. En dit is al wat Villa Rosa se skrywers doen: hulle sit al die cliché's in die storie wat hulle kan kry en probeer nie eers 'n positiewe mens met 'n normale verhouding uitbeeld nie.

Die feit dat Carlo se lewensmaat (ek wil nie sy naam leer nie, want hy gaan duidelik nie deel van die storie bly nie) hom domineer in die verhouding en hy dit toelaat omdat hy smag na liefde en aanvaarding, is so simpel idee dat hulle dit nie met een van die ander paartjies op die sepie laat gebeur nie. Hoekom dink almal dat daar 'n aktiewe en passiewe rol in so verhouding moet wees – wat het geword van gelykheid in 'n verhouding.

Sy verhouding met sy ma was nog altyd gestrem, maar wanneer hy in 'n verhouding is (met 'n ou) dan is dit nog meer gestrem as ooit. En noudat hulle by haar in die huis is, kyk sy hulle behoorlik uit die grond uit. Sy ry ook vroeg soggens werk toe om so min as moontlik tyd met hulle deur te bring.

En om in 'n verhouding te wees is een ding, maar blykbaar mag hulle nie trou nie want dis net verkeerd (sy is al meer as een keer geskei, maar daaroor word nie gepraat nie). Hierdie ding met haar seun plaas soveel druk op haar sy kan nie behoorlik op haar werk konsentreer nie en stoot almal van haar af weg en beeindig haar eie (soveelste) verhouding.

Op 'n ander noot, Villa Rosa het ook iets teen verhoudings oor die kleurgrens. Ek weet dis nie iets wat almal mee saamstem of wil sien nie, maar dit is 'n realiteit en deel van die lewe. Maar soos met gay wees, is dit iets wat nie lank op KykNET gewys word nie.

Ek het gehoop daar kan ten minste een gay karakter wees wat positief uitgebeeld word op Afrikaanse TV, maar dit is blykbaar nie moontlik nie. Ek het op 'n tyd gedink Petrus en Wouter gaan deel word van daai, maar nee.

KykNET en Villa Rosa het hier 'n groot geleentheid gehad en, weereens, dit verspeel.

Show more