2014-09-10

Gedigte, woorde, klanke en ’n melodie. Die weerkaatsing in ’n spieël, ’n pouveerrok en ’n posduif op die vensterbank. Om sy nek ’n briefie, dankie vir jou liefde. Chris Chameleon het pas ’n nuwe CD uitgereik, en vir die eerste keer sing hy saam met iemand (Boo! tel nie nou nie) – die talentvolle digteres, en ou siel, Daniella Deysel, wat ook die nuwe stem in sy lewe is. Deur Melanie Tait. Foto: Merwelene van der Merwe

Chris

Wat is geluk?

die hede. die absolute hede, sonder gister wat krap of môre wat klop. dus ook besonder toeganklik as ’n mens die bagasie kan afskud.

Jy het in die jare tagtig grootgeword, wat maak jou nostalgies van daai jare?

pienk instinct-broeke, heavy beats wat deur die loep van die hede duidelik heavy light beats was, kondensmelk-drukworsies, lae of geen mure, die geur van 04:30 oggende en my rugsak vol beeld- koerante, iets om teen te skop, pak slae op skool, bmx, ongemak by die milky lane, inglip by 2-18 flieks, nog ’n 10plus-tydskrif in die posbus, skoon strate, sylvester stallone, skelm eksemplare van scope met sterretjies en al, bonusobligasies en melkkultuur, kadetorkeste op skool, city golf-advertensies, 52 weke van “loverboy” op die trefferparade, nightrider, mcgyver, a-team, mr belvedere, benson, who’s the boss, skouersponse, drolvangers, plakkate op kamermure, blos op manlike wangbene, zola budd, sunrise-toffies en kortbroeke wat mansbene volledig vertoon.

Musiek van die 80’s waarna jy nou nog luister?

o ja gewis, enigiets met ’n dubbelnaampie soos talk talk, duran duran, the the, mister mister en werklik gereeld nog die magdom supernova-treffers in my 80’s-versameling.

Watter drie liedjies (van enige dekade) sal op jou mix tape móét wees?

pfff… moeilik… uh… “break my stride” van matthew wilder, “supper’s ready” van genesis en tsjaikofski se 1812 overture.

Hoe het Posduif ’n realiteit geword?

dit was ’n baie natuurlike, organiese proses. haar gedigte het lank in my hart gebroei voor hulle as liede begin uitbloei het.

Wat is volgende vir Chris en Daniella?

ek dink ons is voorlopig ten volle toegewyd tot posduif. ’n album is ’n jaloerse minnaar en ’n mens moenie al begin rondkyk na die volgende een nie.

Wat laat jou lag in hierdie aggressiewe tyd wanneer geweld daagliks op lamppale aangekondig word?

wanneer DEKATv my dinge laat sê soos “pappalap” (genugtig ek het daai dag geskater – ons kon vir ’n tydjie lank nie die skakel verfilm kry nie!) of wanneer my ma met gewyde erns dinge sê soos: “deesdae kos alles 20 rand. waar is die dae van vyf rand en sewe rand?”

Watse hoofopskrif sal jy môre in die koerant wil sien?

“eugène marais in tamboerskloof gewaar”.

Waar is jou utopia?

ek het ’n beskeie pondokkie in die oos-vrystaatse berge en ’n beskeie pondokkie aan die oos-kaapse kus wat gedurig wedywer om die volmaakte beliggaming van utopia.

Behalwe Pappalap, wat is jou gunsteling-rolprent?

weer moeilik … die lord of the rings-trilogie.

Wat is ’n kokkeroteenderm?

’n goeie beskrywing van my eerste kar.

Voltooi in jou eie woorde: Al lê die berge nog so blou … sien ek daar niks van nie want ek kyk net vir jou.

Daniella

Wat is vir jou die mooiste woord in Afrikaans?

Versamelberg.

Die lekkerste reuk op aarde?

Sy vel.

Hoe het jy en Chris ontmoet?

Daar was ’n veiling van ’n Salvador Dali-steendruk in Stellenbosch terwyl ek daar studeer het, natuurlik het ek nie gegaan oor ek kon bie nie, maar omdat ek dit wou sien. Ná die tyd was daar kaas en wyn in die kuierplek langsaan. Ek moes gaan vir die kaas, daar was ook wyn. Toe ek inloop, was daar ’n plaaslike kunstenaar plegtig aan ’t kitaar speel. Ek het toe my stukkie kaas en my stukkie wyn gegryp en maar gestaan en luister. Iemand het my op die skouer getik, dit was Chris. Hy het homself voorgestel en ons het nie veel gesê nie, net gekyk, toe is hy weer daar weg.

Word drome waar en wat het vir jou waar geword?

Ek droom graag nag en dag groot, maar dit lyk my ek moet die dagdromery met dagdoenery vervang om die nagdromery te verwesenlik.

Ander passies behalwe woorde?

Ek kook soos ’n ou tannie. Ek hou daarvan om elke dag met ’n ander aksent op te staan.

Waarheen sal jy ’n liefdesbrief wil pos?

Na my ma toe, sonder ’n naam.

En wat sal daarin staan?

’n Loflied om die skoonheid en die wonder wat sy is, te besing.

Waar is jou utopia?

Enige plek waar mense uit hul maag lag.

Watter drie liedjies sal jy op ’n mix tape sit?

Kenny Rodgers – “I just Dropped in”; Evoid – “Shadows”; Tom Jones – “Delilah”.

Watter era sal jy wil gaan besoek, wie sal jy wil groet en watter tekstuur sal jou rok wees?

Ek sal enige tyd vir Peter van Straaten gaan besoek in ’n pouveer-rok.

Hoe lyk die padkaart van jou hart?

Sonder aanwysingsbordjies, met lag, lig en baie donker sjokolade en wasabi-neute.

Wat is ’n kokkeroteenderm?

Daai goed wat ek altyd van my droëwors aftrek voor ek dit eet.

Voltooi in jou eie woorde: Ek lê my pen neer …

en dink: “dit was dom” en tel hom weer op.

* Chris nooi jou elke Sondagaand om 18:30 na DEKATv se sitkamer op kykNET – kom kuier saam!

* ’n kokkeroteenderm is iemand wat sonder ophou eet

Show more